Psalm 14:1
“Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.
Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade;
daar is Niemand wat goed doen nie.”
Psalm 14:1
Mense ontken dat God wel bestaan. Ons erken dat Hy bestaan en nog is daar van ons wat weier om aan Sy wonders in ons lewe, erkenning te gee. Wanneer ons ‘n laagtepunt in ons lewe ondervind, wie anders as God tel ons weer op en plaas ons voete op die grond om weer aan te kan loop deur ons lewensreis.
Moenie altyd God blameer vir tye wat dit sleg gaan nie, Hy los ons nooit alleen nie.
In alles rondom ons kan ons God se groot wonders aanskou en beleef. God bestaan beslis, want Hy is die rede dat ons hier is. Sonder God en al Sy genade en liefde, sou ons nerens kom nie. Wanneer ons twyfel of God waarlik bestaan, dan moet ons kyk na onsself…want waar is ons geloof dan heen…
Psalm 37:19
“Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie,
en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.”
Psalm 37:19
Ons bevraagteken soms die feit dat dit met ons swaar gaan en met ander gaan dit so goed. Ons verarm en die rykes kry net meer. Hoe is dit dan dat hulle net voorspoed ondervind en alles wat hulle doen word met sukses bekroon?
Moet nooit die feite uit die oog verloor. Maak nie saak hoe ryk of magtig ons is, hierdie rykdom en mag is net vir hierdie lewe waarin ons is. Ek kan getuig van soveel keer wat ek nie geweet het wat ek more op die tafel gaan bedien vir my gesin om te eet nie. Die nag bid ek tot God en ek weet Hy ken die omstandighede. Ek het nog elke keer my volle geloof en vertroue in God geplaas, en Hy het my nog nooit teleur gestel nie.