Petrus

2 Petrus 2:17

“Hulle is waterlose fonteine,
miswolke voortgedrywe deur ‘n stormwind,
vir wie die donkerheid van die duisternis vir
ewig bewaar word.”
2 Petrus 2:17

Ons het dalk die heerlike voorreg om die lewe in te gaan met hoë ideale. Niks lyk vir ons onmoontlik nie en ons pak dit met selfvertroue, vreugde en verwagting aan. Baie van ons  ideale het verdof en soos mis voor die son verdwyn. Vasgevang in die daaglikse roetine, lei dit na ‘n lewe vol mislukking en teleurstelling. Soms sit ons en bedink en sien dat ons waterlose fonteine is en met die gejaagdheid van die lewe, is ons niks anders as miswolke wat deur stormwinde voortgedrywe word nie. Geen tyd vir niks, gejaag na wind en ons is besig om te vergaan…

Wanneer ons faal en nie ons ideale bereik nie, kan ons nie bekostig om in ‘n hopie van selfbejammering te verval nie. Ander kan ook nie die skuld van ons mislukking dra nie.
Miskien was die doelwitte te hoog wat ons aan ons voorgestel het. Laat ons dan vir ons doelwitte skep wat binne bereik is, wat na ons vermoë bereikbaar is.

Onthou dat ons altyd kan staatmaak op God. Ons moet tot Hom bid en laat Hom toe om ons denke en gees te vernuwe en ons te bemoedig.



2 Petrus 3:18


“Maar julle moet toeneem in die genade
en kennis van onse Here en Saligmaker,
Jesus Christus.
Aan Hom kom die heerlikheid toe,
nou sowel as in die dag van die ewigheid.
Amen.”
2 Petrus 3:18

Daar begin ‘n nuwe lewe vir ons, wanneer ons Christus aanneem as ons Saligmaker en Verlosser. Ons sien vir dan vir die eerste keer, die lewe in die regte perspektief. Ons nuwe lewe weerspieël in ons verhouding met ander. Wanneer Christus die Kragbron in ons lewe word, ervaar ons motiverende krag en word bewus van ons eenheid in Hom en die liefde is oneindig.

Ons moet soekend bly na Christus se leiding, sinvolle gemeenskap met Hom, en gebed.
Ons moet strewe om te groei na die beeld van Christus. Geestelike rypheid en volwassenheid bring terselfdertyd ‘n helder begrip mee. Sonder hierdie groei, is daar agteruitgang en uiteindelik doodsheid.

Dit verg tyd, aanmoediging, en ons doelwit om te groei in Jesus Christus.